Header
Press room

Splinternuwe Liewe Heksie vir Emperors Palace

09 September 2013

Lefra Produksies bring ‘n splinternuwe LIEWE HEKSIE-verhoogproduksie Emperors Palace toe! Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels is vanjaar 80 jaar jonk en glo dit as julle wil, Liewe Heksie is vanjaar 50 jaar oud. Maar Heksie word mos nooit ouer nie. Lefra Produksies toer reeds die afgelope drie jaar met baie suksesvolle Liewe Heksie-produksies.

Om Verna se verjaarsdag te vier, het regisseur Frans Swart vir Verna oortuig om ‘n splinternuwe Liewe Heksie-storie te skryf. So is hierdie nuwe Heksie-teaterproduksie gebore – LIEWE HEKSIE EN DIE TUINDWERGIE. “Ek wou nog altyd gehad het dat Heksie ‘n tuindwergie ontmoet,” sê Verna “en wou sien wat Heksie met die Tuindwergie doen. En glo my, ek is seker sy gaan weer in die moeilikheid kom! Ons maatjies moet maar kom kyk wat vang Heksie met die Casper, die tuindwergie aan.” Frans Swart, regisseur van Liewe Heksie sê hy is baie opgewonde dat Verna die nuwe storie spesiaal vir hom geskryf het en ook aan hom toevertrou het. “Liewe Heksie het deur die jare so ‘n groot invloed op my lewe gespeel, want ek was kameraman op die Heksie-televisiereekse. Behalwe dat ek grootgeword het met Liewe Heksie, het Heksie in my hart kom inkruip met die televisiereekse. Dit is vir my ‘n besondere eer om LIEWE HEKSIE EN DIE TUINDWERGIE op te voer en dis so besonders, want dis ‘n vars en splinternuwe storie,” sê Swart.

Voor pouse word LIEWE HEKSIE EN BOTTERBLOM opgevoer. Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf. Maar Botterblom is kwaad. Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en Botterblom raak baie eensaam. Dan begin die poppe (of is dit nou koeie?) dans.

LIEWE HEKSIE EN DIE TUINDWERGIE speel in die oggende om 11:00 by Emperors Palace se Theatre Marcellus van 22-26 Oktober 2013. Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 815 8000 of www.computicket.com Heksie is ideale vermaak vir kleuterskole, crèches, speelgroepies en laerskole. Selfs hoërskole gebruik Heksie vir kuns en kultuurprojekte. Indien skole of groepe wil bespreek, kan Monica geskakel word by (011) 815 3000 of stuur ‘n epos aan admin@lefra.com Vir meer inligting, besoek www.lieweheksie.com

Ana van Achterbergh speel Liewe Heksie. Ander spelers is Botha Enslin (Kwaaitjie Kabouter, Mattewis, Geelheks, Borrie, Griet en Karel Kat), Debré Rossouw (Blommie Kabouter, Koning Rosekrans en Kerrie) en Phillru van Achterbergh (Casper, die Tuindwergie, Karring, die melkkabouter en Borrie). Frans Swart het die verhoogverwerking gedoen en is ook regisseur.

Verna vertel dat Liewe Heksie nooit die hoofkarakter in die stories was nie. “Blommie Kabouter was eintlik die hoofkarakter wat in 1961 vir die eerste keer op Siembamba uitgesaai is. Ek het toe hierdie goeie heksie geskep en voor ons ons oë kon uitvee, het Heksie die gewildste karakter geword. In 1963 word Liewe Heksie dan amptelik gebore. Sy verjaar mos op 42 April!” lag Verna. “My vorige sekretaresses stuur nog elke jaar op 24 April vir Liewe Heksie verjaarsdagkaartjies. En sy kry mos die woordjies so bietjie deurmekaar.”

Frans Swart, die regisseur van Liewe Heksie en die Tuindwergie sê dit was weer ‘n wonderlike ontdekkingstog. “Dit was voorwaar soveel pret om aan Heksie te werk,” sê Frans. “Verna se karakters is so geloofwaardig dat dit sommer baie maklik vir my was om vir hulle lewe op die verhoog te gee.”

Swart is baie opgewonde dat dit ‘n splinternuwe storie is. “Ek moes maar arm druk met Verna, maar uiteindelik het sy ingestem. Die lekker is dat niemand hierdie storie ken nie en dit gaan ‘n groot verrassing vir almal wees. Daar is drama boeta – van ‘n ander wêreld wat almal op die punte van hulle stoele gaan hou,” se Swart. “Dit is wonderlik dat ons wel met die produksie kan toer en so ook die wonderwêreld van teater aan alle kinders kan bekendstel. Dit is vir ons so belangrik om hierdie tipe kinderteater te doen, want dit is die enigste manier hoe ons kinders weer terug in die teater gaan kry en hoe ons ‘n nuwe generasie teatergangers gaan kweek. Ons hoop dat al die skole hulle kinders teater toe sal bring.”

Liewe Heksie toer tans die land vol. Om die produksie vir jou stad, dorp, skool of organisasie te bespreek, skakel gerus vir Monica by (011) 815 3000 of epos aan info@lefra.com Meer inligting by www.lieweheksie.com

1 -
2 -
Loading...
Loading...
Loading...
Loading...